Die Blombos Grot is naby Stilbaai geleë. Dis ongeveer 100 m van die see en 35 m bo seespieël. Prof Christopher Henshilwood, ʼn professor aan die Universiteit van Bergen in Noorweë asook die Universiteit van die Witwatersrand, Suid-Afrika, het die terrein in 1991 ontdek. Die eerste opgrawings is deur hom en Cedric Poggenpoel gedoen. Later is spanne opgrawers betrek. Onder Henshilwood se leiding is verdere werk vanaf 1997 tot 2009 gedoen en verdere opgrawings is ook daarna uitgevoer. Die grot bevat ongeveer 55 vk. m. sigbare neerslae en is ʼn geraamde 4 tot 5 m diep aan die voorkant en 3 m na agter. Toe die opgrawings in 1992 begin is, was die grot se ingang amper geheel en al toe as gevolg van duinesand en ook ʼn bolaag van ongeveer 20 cm. ongerepte aeoleaanse sand. Dit dui aan dat die inhoud van die grot sedert die finale Laat Steentydperk bewoning ongeveer 290 jaar gelede, onverstoord was.