Visvywers

fish-trapsDie klipkraalagtige visvywers in die intergetysone by Noorkapperspunt (Skulpiesbaai), sowat 2km van die Stilbaaihawe, is die nalatenskap van die oorspronklike bewoners van die Suid-Kaapse kusgebied, wat die strukture gebou en benut het om deur middel van die gety-aksie vis te vang (nou ʼn nasionale monument). Hierdie mense het vir duisende jare in die betrokke kusgebied gewoon, maar die visvywers is waarskynlik nie ouer as twee tot drieduisend jaar nie, aangesien seevlakke voor die tyd heelwat anders was as vandag. Toe die eerste blanke koloniste hierdie gebied in die laat 1700’s en vroeé 1800’s binnegekom het, het die inheemse Khoekhoen steeds die viskrale benut en die nuwe intrekkers het spoedig hul vindingryke visvangtegnieke oorgeneem en uitgebrei. In later jare was dit nodig om ʼn permit van die plaaslike magistraat te bekom ten einde ʼn visvywer te bou en te bedryf. Tot onlangs nog het Stilbaaivissers en -boere die mure van die Noorkapperspunt visvywers (23 in totaal) in stand gehou om hulle teen die vernietigende aanslag van die golwe te bewaar. Elke vywer het sy eie volksnaam soos “Elmboog” en “Krom Knie” gehad.
Die verklaring van die gebied as ‘n beskermde marienegebied in 2008, met die visvywers as ‘n beperkte sone, het die instandhouding en gebruik van hierdie ou tegnologie tot ʼn einde gebring.
Daar word geglo dat dit van die uiterste belang is om ʼn werkswyse te vind wat die bewaring van hierdie visvywers by Noorkapperspunt as ʼn voorbeeld van die oudste werkende tegnologie in Suider-Afrika, sal verseker.

Afrikaans of / or English